Watter Battery Is Die Beste?

As jy onlangs ’n verdeler-herlaaistelsel vir jou 4×4 gekoop het, maar nie tevrede is met die verrigting daarvan nie (veral die herlaaikoers), is dit dalk die skuld van die soort battery wat jy gekoop het.

National Luna verduidelik.

As jy begin nalees oor ekstra batterye, loop jy jou dikwels vas in ’n warboel van inligting en verkeerde afleidings. Die saak word vererger deur handelaars (met beperkte kennis en opleiding) wat dikwels goed bedoeld hulle topverkoperbattery aanbeveel sonder om jou spesifieke behoeftes in ag te neem. En dan stel hulle gewoonlik voor jy koop ’n diepsiklusnatselbattery. Daar is boonop weinig inligting beskikbaar oor hoe hierdie verskillende batterye in verskillende herlaaitoestande vaar. Ongelukkig is baie batteryvervaardigers traag om hierdie inligting te laat publiseer omdat dit te veel van hulle produk se verrigting sal verklap.

National Luna het onlangs meer as R250 000 in batterytoetstegnologie belê. Die inligting wat ons hiermee insamel, gee vir ons ’n beter begrip van hoe batterye in verskillende dubbelbatterystelsels en/of -toepassings vaar. Tot dusver het die toetse verstommende resultate gelewer, maar dit het ook iets bevestig wat ons al meer as 20 jaar weet: Jou ekstra battery is die hart en siel van jou dubbelbatterystelsel.

Dit is daarom ironies dat baie mense baie aandag gee aan die dubbelbatterystelsel self, en dink ’n duur isoleerder en/of GS-tot-GS-herlaaier sal al hulle probleme oplos. Die waarheid is egter dat 80% van die probleme met ’n dubbelbatterystelsel niks te doen het met die verdeler-herlaaistelsel nie, maar met die soort battery wat jy gekoop het.

Met ander woorde, as jou dubbelbatterystelsel nie werk soos dit moet nie, is die kans goed dat jou ekstra battery nie geskik is vir die doel waarvoor dit gekoop is nie.

Dit is dikwels die norm in die bedryf om ’n natdiepsiklusbattery as die ekstra battery te laat installeer. Maar dié batterye neem tot 24 uur om 100% te herlaai, selfs in optimale herlaaitoestande. Dit is daarom nie juis ideaal vir mense wat korter as ’n dag lank op die pad is nie.

Ander faktore, soos die alternator se lewering, sal ook ’n betekenisvolle impak op die battery se herlaaikoers hê.

Dit is hoekom ons soms ’n hoësiklusbattery aanbeveel in plaas van ’n diepsiklusbattery. Die hoësiklusbattery sal dalk nie so lank hou nie, of nie soveel bruikbare energie lewer nie, maar dit herlaai aansienlik vinniger. Daarom is dit dikwels ’n meer praktiese keuse.

Ons glo egter nie ’n hoësiklusbattery is die klinkklare oplossing vir alle dubbelbatterystelsels nie. Ons sê bloot (in sommige gevalle) is dit dalk ’n beter keuse. Uiteindelik bepaal jou herlaai-opset die keuse van jou battery. Hou die volgende in gedagte:

watter verdeler-herlaai-stelsel jy gebruik; jou voertuig se alternatorlewering of stroomspanning is baie belangrik (die meeste batterye sal nie teen ’n lae stroomspanning herlaai nie); die hoeveelheid ure wat jy gewoonlik op die pad deurbring; en jou normale kragbehoeftes en of jy ’n sonkragstelsel het.

Begin jou soektog na ’n ekstra battery met dié drie vrae:

Wat is my begroting?

Wat is my beperking wat grootte betref (waar gaan die battery gebruik word?)

Watter battery-ontwerp of tegnologie voorsien die beste in my behoeftes?

Dit bring ons by die kwessie van spesialisbatterye wat deesdae in die 4×4-ontspanningsmark beskikbaar is.

Die volgende is die belangrikste inligting oor die voor- en nadele van drie soorte batterye wat algemeen beskikbaar is in 4×4-winkels.

1 1. ’N NATSELLOODSUURBATTERY

Hierdie battery bevat vloeibare elektroliete wat verhit wanneer dit herlaai word. Die gevolglike hitte veroorsaak verdamping en waterverlies. Gereelde instandhouding en dienste is dus noodsaaklik. Die natloodsuurbattery word boonop as gevaarlik beskou weens die moontlikheid van lekkasies en gasse wat vrygestel word. Hoewel dit algemeen beskikbaar is en die aanvanklike koste laag is, moet loodsuurbatterye gereeld nagegaan, gediens en veilig geberg word.

Omdat hierdie batterye outomaties 10% krag per maand ontlaai, moet dit aan ’n instandhoudingsherlaaier gekoppel word wanneer dit nie gebruik word nie.

 

2 DIE GELBATTERY

Dit is ’n verseëlde battery (wat deur ’n klep gereguleer word), wat nie mors nie en wat nie

in stand gehou hoef te word nie. Gelbatterye het gewoonlik interne plaatjies, en die elektrolietmengsel bevat ’n byvoeging wat dit ’n gel-agtige tekstuur gee. Die nadeel is dat hulle presiese herlading vereis, ’n stadiger herlaaispoed het (stroomspanning en tyd), en dat hulle beskadig word as hulle oorlaai word. Hulle grootste nadeel is egter hulle hittesensitiwiteit, wat beteken hulle kan nie gemonteer word waar hulle aan omringende temperature van meer as 25 ºC blootgestel word nie. Dit is dus nie die soort battery wat in die enjinruim geplaas kan word of agterin ’n sportnutsvoertuig kan bly lê wat onder die bakkende son geparkeer is nie.

3 Die AGM-BATTERY (ABSORBERENDE GLASMAT)

Dis ’n battery (wat deur ’n klep gereguleer word) en geen onderhoud verg nie.

Die AGM-battery gebruik veselglasmatafskeiers waarin die elektrolietmengsel vasgevang word. In die meeste gevalle herlaai ’n AGMbattery vinniger as ’n natbattery, maar weens die dunner plaatjies sal die AGM-battery nie ’n ontlaaitempo van meer as 50% hanteer nie.

Jy sal dalk die battery meer gereeld moet vervang omdat dit ’n korter lewensduur het.

4 DIE AGM-EVTRAKSIEDROËSELBATTERY

Hierdie battery het die dikste plaatjies van die vier wat hier genoem word. Dit het ook ’n

hoër digtheid van aktiewe materiale, wat tot beter verrigting, groter kapasiteit en ’n langer

lewensduur lei. Droëselbatterye is heeltemal geseël, hoef nie in stand gehou te word nie en

herlaai vinnig.

Die nadeel is dat hulle ook die duurste is, maar as jy hulle verrigting en lewensduur in ag neem, bied hulle op die lang duur waarde vir geld.


Read More Recent Articles

 

Stay in touch with the latest National Luna Products and News!