Watter Dubbelbatterylaaiers Werk Die Beste?

Verlede maand het julle oor dubbel batterystelsels geskryf en net vinnig na dubbelbattery-laaiers verwys, spesifiek solenoïedstelsels versus GS-tot-GS-laaiers.

Het julle enige raad vir my as ek ’n gesplete laaistelsel wil koop?

Die debat oor watter stelsel die beste is (solenoïed of GS-tot-GS-laaiers) woed al jare lank. Ongelukkig doen baie verkeerde inligting hieroor die ronde, wat deur geen navorsing ondersteun word nie. Tans is daar geen toetse beskikbaar om te bewys een stelsel is beter as die ander nie. Dit moontlike rede hiervoor is dat daar soveel opsies beskikbaar is. Wat in die een voertuig werk, sal nie noodwendig in ’n ander een werk nie.

Die ander is die wanopvatting dat iets noodwendig beter is omdat dit duurder is. Hierdie opvatting word deur die bedryf aangevuur, omdat baie sogenaamde kenners duurder toerusting aanbeveel omdat hulle meer wins daarop maak. Dikwels lei dié “kenners” ook verkeerdelik af dat duurder toerusting beter moet wees.

National Luna het ’n reeks toetse (op verskeie produkte) in die laboratorium onderneem, maar die antwoord is nie naastenby klinkklaar nie. Die grootste probleem wanneer jy probeer vasstel watter dubbelbattery-laaier die beste is, is dat die resultaat beïnvloed word deur faktore soos:

  • Die soort battery wat jy gebruik
  • Die alternator se kraglewering
  • Die tyd wat jy gemiddeld op die pad deurbring

Elkeen van hierdie veranderlikes het ’n groot invloed op hoe die dubbelbattery-laaier werk.

Daarom kan jy aanvaar dat enige stellings oor watter stelsel beter werk, vrot van eralgemenings gaan wees. Kom ons kyk na ’n tipiese voorbeeld:

As die alternator se uitset 13,7V of meer is, sal ’n solenoïed oor die algemeen vinniger herlaai as die meeste GS-tot-GS-stelsels. Die GS-tot-GSstelsel sal egter mettertyd inhaal en 100% van die batterykrag herstel. Maar dié resultate sal weer afhang van die soort battery wat jy gebruik. As die stroomspanning minder as 13,5V is, sal die resultate verskil, en sal dit (weer eens) deur die batterysoort beïnvloed word. Ongelukkig lei bogenoemde tot meer vrae as antwoorde, wat jou nie help as jy ’n dubbelbattery- laaier koop nie. Boonop weet die meeste eienaars nie wat die spesifieke stroomspanning van hulle voertuig se alternator is nie.

Daarom, pleks van bespiegel, kom ons begin met die dinge wat jy wel weet – hoeveel geld jy het en hoe lank jy gewoonlik op die pad deurbring.

BEGROTING

Dit is uiteraard die beginpunt, en dit hou met twee dinge verband: die prys van die dubbelbattery- laaier en die prys van die battery. Soos reeds genoem, al die navorsingsdata wat National Luna oor dubbelbattery-laaier ingesamel het, wys na een feit wat soos ’n paal bo water staan:

Die stelsel se lewering word hoofsaaklik deur die battery bepaal.

Dit maak geen sin om R10 000 te bestee op ’n laaier, en dit dan aan die verkeerde soort battery te koppel nie. Maar onthou, die toepassing bepaal ook die keuse van battery.

National Luna se raad was nog altyd: Koop die beste battery wat jy kan bekostig! In die meeste gevalle sal dit ’n droësel-EV-traksie-battery wees.

Dis aansienlik duurder as ’n (natsel-) diepsiklusbattery, maar die lewering sal wissel. Dit is soos om die veldryvermoë van ’n Land Cruiser 70 met dié van ’n RAV4 te vergelyk.

RYTYD

Deesdae het voertuie wyd uiteenlopende alternatorstroomspannings, maar kom ons hou dit eenvoudig en vergelyk die lewering van ’n gewilde 20 amp GS-tot-GS-laaier met ’n solenoïedstelsel, met ’n algemene scenario waarin:

  • ’n Droëselbattery van 140 amp gebruik word
  • Die voertuig se alternator tipies 13,7V lewer
  • Die rytyd 6 uur of minder is

Die onderste grafiek wys die herlaaikoers van ’n solenoïedstelsel, in vergelyking met ’n 20 amp GS-tot-GS-stelsel.

Die battery is ontlaai tot 110 Ah (byna 80%).

Jy sal opmerk dat die solenoïedstelsel aanvanklik goed vaar, maar later neem die voordele van ’n solenoïedstelsel af en begin die GS-tot-GS-laaier ’n hoër finale stroomspanning lewer.

GS-tot-GS-laaiers word dikwels bemark en verkoop as beter stelsels (met hoër ampèrelewering), maar uit ’n praktiese oogpunt vaar die solenoïedstelsel in die eerste 6 uur – wanneer dit saak maak! – aansienlik beter as die 20A GS-tot- GS-laaier.

Die meeste van ons ry nie langer as 6 uur per dag wanneer ons op vakansie in die bos is nie, en dit is die tyd waarin die solenoïedstelsel meer krag herlaai as die 20 Amp GS-tot-GS-laaier.

Daar is natuurlik GS-tot-GS-laaiers met hoer stroomgraderings beskikbaar, maar hulle kos aansienlik meer.

Om op te som: As die alternator stroomspanning laer is as 13,5 V, vaar die GS-tot-GSstelsel beter, maar namate die stroomspanning toeneem, word die voordele van ’n solenoïdstelsel al hoe duideliker. Dink daaraan as die resies tussen die hasie en die skilpad. Die skilpad wen dalk, maar net as hulle oor ’n lang afstand meeding. Oor die korter afstande vaar die hasie beter.

Wat ons terugbring by die vraag watter stelsel beter is. Onthou: Dit sal bepaal word deur jou begroting en jou voertuig-opset. National Luna glo (op grond van bogenoemde voorbeeld), dat die beste waarde vir geld gebied word as jy ’n AGM (droësel)-EV-traksiebattery kombineer met ’n bekostigbare (en meganies uiters betroubare) solenoïedstelsel, en ook ’n hoëgehalte 220V-instandhoudingslaaier byvoeg.

So ’n kombinasie sal die beste herlaaityd verseker, en mettertyd die maksimum batterylewe en prestasie verseker.

Wat my by ons laaste punt bring: Ongeag watter dubbelbattery-laaier jy gebruik, ons beveel aan dat jy jou ekstra battery dikwels aan ’n 220Vinstandhoudingslaaier koppel in die maande wat jy dit nie gebruik nie.

Tensy jy vir lang tye (langer as 18 uur op ’n slag) op die pad is, is dit onwaar skynlik dat jou ekstra battery ooit 100% herlaai sal word – maak nie saak watter dubbelbatterylaaier jy gebruik nie. Dan het jy ’n instandhoudingslaaier nodig


Read More Recent Articles