Begin Van Die Ystydperk

Só het die eerste yskas-vrieskas-kombinasie ontstaan…

Dit het alles in 1990 begin toe ’n Suid-Afrikaanse ingenieursfirma’n tender vir ’n projek vir die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ingedien het. Die WGO was op soek na sonkrag-yskaste wat vir ’n mediese inentingsveldtog in Afrika gebruik kan word, en National Luna het sy hand opgesteek.

Daardie tyd het National Luna nog net boorgatpompe en 12 V-buisligte vervaardig, maar die maatskappy het nietemin die kans aangegryp. National Luna se prototipe vir ’n 12 V-yskas was die enigste een wat aan die WGO se streng vereistes voldoen het.

Die inentingsveldtog is egter om politieke redes laat vaar, en National Luna was opgeskeep met ’n projek vir ’n draagbare yskas ter waarde van R3 000 000. (Altesaam R3 miljoen is in die ontwikkeling van die prototipe-yskas belê, wat omtrent R10 miljoen in vandag se geld is.)

’N DAPPER STAP

Vir National Luna was die skrif aan die muur – die verliese moes op ’n manier verhaal word, en vroeg in die 1990’s het die maatskappy begin om sy 12 V- draagbare yskaste in die buitelewegemeenskap te bemark.

Die teikenmark was entoesiaste wat hulle voertuie gebruik om die natuur te geniet.

Dit het ingesluit hengelaars, kampeerders, en die eienaars van safari-lodges (vir hulle wildkykvoertuie). Vreemd genoeg was die 4×4-ontspanningsmark in Suid-Afrika toe nog nie heeltemal op dreef nie. Hierdie vlam het eers in die middel 90’s vlam gevat.

Namate die getal 4×4-entoesiaste in Suid-Afrika toegeneem het, het die vraag na National Luna-yskaste toegeneem.

En ontwikkeling het tred gehou met die behoeftes van die veldrygemeenskap.

Vandag is National Luna die enigste vervaardiger van gespesialiseerde 4×4-yskaste in Afrika, en ’n wêreldleier op die gebied van 12 V-yskaste.

Meer as 70 werkers is in diens by die aanleg in Gauteng. Hoewel dele van die fabriek geoutomatiseerd is, word die yskas nog met die hand aanmekaar gesit.

National Luna kan spog met ’n hele paar “eerste ooit”-titels in die yskasmark, maar is die beste bekend vir die 2002-bekendstelling van die dubbelkompartement-yskas, waarvan die twee kompartemente se temperature afsonderlik verstel kan word sodat die een as ’n yskas, en die ander een as ’n vrieskas gebruik kan word. Wat hierdie eienskap merkwaardiger maak, is dat die yskas net een kompressor daarvoor gebruik. Dit het ook ’n gesofistikeerde elektriese beheereenheid, wat ’n aan sien like besparing in ruimte, gewig en prys meebring.

Die dubbelbeheer-funksie was ’n eerste in die bedryf, en dit het mededingers (plaaslik en internasionaal) langer as agt jaar geneem om soortgelyke produkte op die rak te sit. Deesdae probeer nabootsers egter hulle bes om die oorspronklike Suid-Afrikaanse handelsmerk na te doen. In so ’n mate dat National Luna ’n “toets” hiervoor ontwikkel het.

UITGEVANG!

Om die vlak van Chinese nabootsing dop te hou, het National Luna ’n elektroniese verspreidingsbord met ’n nagemaakte kapasitor ingebou. Die kapasitor het geen doel nie – hy vang net nabootsers uit! En wrintiewaar, sommige Chinese handelsmerke het alles nageboots, tot by die totaal onnodige kapasitor. Maar die nabootsers gaan selfs verder: ’n Spelfout wat in piepklein letters op van die drade aangebring is, is ook nageboots!

Dit het National Luna net herinner dat jy te alle tye ’n kortkop voor jou mededingers moet bly deur voortdurend te vernuwe en baanbrekerswerk te doen. Dan sal jy die trotse vervaardiger van die enigste kampeer-yskas wees wat opgewasse is vir die ongenaakbare Afrika-toestande.

DEURBRAAK

Die eerste National Lunayskas wat vervaardig is, en wat aan die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgelê is.

Hierdie yskas is nou 24 jaar oud en werk steeds soos ’n droom!

DUBBELE WAARDE

National Luna was die eerste vervaardiger wat ’n 12 V-yskas met twee kompartemente vervaardig het, en ook die eerste wat ’n digitale beheerpaneel gebruik het.


Read More Recent Articles

 

Stay in touch with the latest National Luna Products and News!